Andrewjordaanenseuns.com
  • Produksie Veiling 22 July 2021
  • Produksie Veilings Februarie 2018
  • Nasionale Dormer Veiling 2017
  • Produksie veiling Feb 2017
    • Blog
  • Produksie Veiling 4 Feb 2016
  • Produksie Veiling Julie 2015
  • Dormer Nasionale veiling
  • Merino
  • Dormer
  • Boran
  • Melkery
  • Akkerbou
  • Voerbakke
  • Produksie veilings
    • Produksie Veiling Februarie 2015 >
      • Katalogus >
        • Produksie Veilings 2014 >
          • 28 Augustus 2014 >
            • Katalogs Produksie veiling 6 Februarie 2014 >
              • Produksie Veilings 2013 >
                • Merino Nasionale Veiling 2013 >
                  • Veiling katalogus Augustus 2013
  • Media
    • Boere Raad
  • Produksie Veilings Februarie 2020
  • Produksie Veilings Februarie 2018
  • Produksie Veiling 4 Februarie 2021
310715_saamboer.pdf
File Size: 127 kb
File Type: pdf
Download File

Plaasbesonderhede:

Spekboomberg Boerdery Cradock

Grootte

16 000 hektaar veld en 800 hektaar onder besproeiing

Vertakkinge

Merino’s stoet en kommersieel, (8 000 ooie waarvan 3 000 stoet is), Dormers (350 ooie) melkery (900 koeie), Borhan-beeste en mielieboerdery.

Lamseisoene.

Herfs en lente.

Drakrag veld

Wissel van 1 KVE op 3 ha tot 1 KVE op 7 ha.

Aantal werkers

70 heeltyds.

 

Die week kuier ons by 

 Mnr. Andrew Jordaan (61) van Spekboomberg Boerdery

Vertel ons van jou gesin?

Ek is met Sanria (57) (née Venter) getroud en ons het 3 seuns Wilhelm, Ginkel en Andrew en sy tweelingsussie (naam) en 5 kleinkinders.

Waar hou julle vakansie?

Voor my seuns kom boer het, het ons nêrens gegaan nie. Nou gaan span ons in Desember op Paradysstrand uit waar ons ’n vakansiehuis is.

Aan watter sport neem jy deel?

As jongman het ek rugby gespeel. Nou ondersteun ek maar die Cheetahs  

Wie was jou mentor?

My pa Zeis – hy het my geleer hoe om met ’n fyn oog na die Merino te kyk.         

Landbouweekblad vra

Wat is die gemiddelde mikron van jou skeersel?

Die ooie (stoet ingesluit) is gemiddeld 19,8 mikron en die jaaroudlammers 17 mikron.    

Waaraan skryf jy jou sukses toe?

Die feit dat dit ’n familieonderneming is. My vrou, Sanria doen die boekhouding terwyl Andrew jr. na die skaapboerdery omsien. Ginkel behatig die melkery en Wilhelm die saaiboerdery. Hy versien ook die implemente.

Hoe voel jy oor die toekoms van die land?

Positief mits ons die werkers gemotiveer kan hou. Ons moet net vasbyt. 

Wat was jou beste boerderybesluit ooit?

Om my hand diep in die sak te steek en betyds grond te koop toe dit nog bekostigbaar was. Hier is onlangs besproeiingsgrond teen R250 000 per hektaar verkoop en selfs veld is nie onder R5 000 ha beskikbaar nie.  

Wat is jou droom vorentoe?

Dat my seuns en hulle vroue die familieboerdery sal voorsit en die gehalte van die vee met die beste in die land sal vergelyk.   

Watter tydskrifte lees jy?

Landbouweekblad is my tweede Bybel maar ek loer ook na die Huisgenoot as my vrou daarmee klaar is.

 

Kortliks:

·         Laparoskopie vergemaklik bestuur en verseker vinnige teelvordering,

·         Relatief goedkoop as die hoeveelheid meerlinge wat gespeen word in ag geneem word.

·         Goeie voorbereiding van ooie voor prosedure gedoen word noodsaaklik.

·         Al meer kommersiële boere maak van die hulpmiddel gebruik.  

       

ID Lapa-artikel

Theuns Botha

Lam teen minder as R50 met laparoskopie.

Die semi-chirurgiese prosedure laparoskopie verseker snelle teelvordering en hoë lampersentasies sê ’n bekende Karooboer wat dié  praktyk reeds die afgelope 30 jaar toepas. En, boonop dit is baie goedkoper as wat die meeste boere dink.          

’n Suid-Afrikaanse rekord is in Desember verlede jaar op die plaas Spekboomberg in die Cradock-distrik opgestel toe drie veeartse, dr.’s Johan (63), Fanie (35) en Thomas Steyn (30)  van Ramsem in Bloemfontein 1 000, (13 maande oue) Merino-ooie met 10 ramme binne 10 uur laparoskopies kunsmatig geïnsemineer het. Die vorige hoogste getal op dieselfde plaas was 650 ooie op ’n dag wat deur twee veeartse gedoen was.

Die semi-chirurgiese prosedure wat minder as 1 minuut duur en slegs deur opgeleide veeartse uitgevoer mag word  behels twee klein openinge wat met ’n skalpel in die buik van die skaap gemaak word en waardeur 0,01  mℓ  semen (20 miljoen sperme) met ’n dun naald onder endoskopiese visualisering regstreeks in die baarmoeder-horings geplaas word.  Die medium wat gebruik word om die saad te verdun bevat ondermeer eiergeel (proteïene), antibiotika en pH-buffers om te verseker dat die sperme beter oorleef. Die vars saad word in ’n waterbak by ’n temperatuur van tussen 32° C en 34°C gehou wat dieselfde is as in die ram se skrotum. Die ejakulaat van elke ram word mikroskopies ondersoek en aantekeninge gemaak oor die kleur, gehalte en progressiewe beweging van die sperme. Indien ’n boer vir een of ander rede ’n navraag het, kan daar na die verslag teruggegaan word.            

Mnr. Andrew Jordaan (sr.) van Spekboomberg Boerdery wat saam met sy drie seuns boer, was een van die eerste Merino-stoettelers in die land wat reeds 30 jaar gelede begin het om sy ooie laparoskopies te insemineer. Hy laat jaarliks nagenoeg 8 000 ooie in lamhokke en op weidings lam. Ramsem het verlede jaar altesaam 4 700 van sy ooie laparoskopies geïnsemineer. Speenpersentasies van tot 178% is nie meer ongewoon op die plaas nie. Dit is te danke aan die toepassing van laparoskopie tesame met goeie bestuur- en voedingspraktyke, sê dr. Fanie Steyn van Ramsem.

En, sê Fanie met die resultate wat die Jordaans behaal, kos die hele prosedure hulle minder as R50 om ’n lam op die grond te kry. Dit is aansienlik minder as waar bevrore semenstrooitjies van top ramme aangeskaf sou word om servikale KI te doen. “Daar is vandag geen manier hoe ’n boer méér lammers van topgehalte teen ’n laer koste kan kry nie as met laparoskopie nie. Toe Ramsem 30 jaar gelede begin is was daar net ’n hand vol van die land se voorste Merinotelers wat die praktyk meestal met bevrore saad van ingevoerde ramme gedoen het. Dit was destyds baie duur, maar namate die tegniek en tegnologie verbeter het, het dit heelwat goedkoper geword en is die resultate vandag baie beter.”

 Thomas sê die prosedure veroorsaak minder ongemak by ooie as om sterte af te sit, lammers te kastreer of ’n oorplaatjie in te sit. “Daar is ook geen probleme met die herbesetting van ooie wat laparoskopies geïnsemineer is nie. Trouens die herbesetting kan selfs hoër wees danksy beter bestuur, seleksie en voeding wat daarmee gepaardgaan.”

Thomas sê daar is nêrens wetenskaplik opgeteken dat die gebruik van DMS en of die toediening van die hormone in die sponse of CIDR enige nadelige gevolge inhou wat reproduksie betref nie aangesien dié stimulasie-middels dieselfde tipe hormone is wat natuurlik in ooie voorkom.          

“Met die toename in probleemdiere is daar al meer boere wat waarde daarin sien om ’n groter hoeveelheid lammers van beter kwaliteit ramme in ’n korter aan te kry. Dit is nie net stoettelers nie, maar ook kommersiële boere wat deesdae hulle ooie laparoskopies insemineer. Een van die grootste voordele is dat meer as 2 300 ooie met ’n enkele ram se saad in een jaar bevrug kan word. Met natuurlike paring  sou hoogstens 80 ooie gedurende ’n jaar beset kon word. Dit meen dat ’n boer wat laparoskopie doen ook kan bekostig om baie meer vir ’n uitstaande ram  te betaal.”

Volgens Fanie stel die tegniek en verdunningsmiddels wat hulle gebruik ’n boer in staat om tussen 50 en 100 ooie per ejakulaat laparoskopies te insemineer. Hulle het egter ook al daarin geslaag om tot 500 ooie op ’n dag met ’n enkele ram se vars saad te insemineer. Die gebruik van vars saad is deesdae baie meer gewild as toe laparoskopie die eerste keer in die land toegepas is.     

Fanie gee egter toe dat die prosedure vir baie boere nog ’n vreemde konsep is en hulle vir die aanvanklike koste wat nagenoeg R90 per ooi beloop skrik. “Maar ons het telkens gesien dat waar boere die sukses van hulle medeboere wat dit toepas gadeslaan, hulle ook aan ons deur kom klop. Hoewel die lam van ooie in hokke nie ’n voorvereiste is nie, word dit tog aanbeveel vanweë die groot hoeveelheid meerlinge wat aankom. “Ons ervaring is dat boere wat eers eenkeer die voordele daarvan persoonlik ervaar het, hulle dit die volgende jaar weer gaan doen. Dit is meestal mense wat buite die kassie dink, goed na hulle vee omsien en oor voldoende arbeid en voeding beskik.”

Hy sê vanweë arbeidsprobleme is laparoskopie nie so gewild in Australië nie. Die Ossie-skaapboerdery is baie meer ekstensief en met hulle bestuurstelsels sal dit moeilik wees om meerlinge op dieselfde wyse as die Jordaans te versorg.           

Andrew Sr. sê met sy stelsel waar sowat 8 000 ooie per jaar in lamhokke en aangeplante weidings gelam word, laparoskopie vir hom ’n onontbeerlike bestuurshulpmiddel geword het. “Hoewel die koste relatief hoog is, vergoed die 30% méér  lammers wat gespeen word dubbel en dwars daarvoor.”

Na bykans 30 jaar se toepassing van die stelsel, sê Andrew dat hy dit moeilik vind om ramme te kry wat verdere teelverbetering in sy kudde kan meebring. Wat hom nietemin verbly is die terugvoer wat hy van voerkraaleienaars kry dat hulle Merino-stoorlammers ’n uitstekende groeitempo het en baie goed met bekende vleisskaaprasse vergelyk.”

Nog ’n voordeel is dat wanneer bepaalde stoetramme puberteit bereik, hulle dadelik op die proef gestel kan word en die onderskeie ramme se nageslag dan beter met mekaar vergelyk kan word aangesien die omgewingstoestande presies dieselfde is. Elke groep ooie wat met ’n betrokke ram gepaar word en hulle lammers kry unieke oorplaatjies.   

Andrew se hoewel hy, toe hy begin boer het, self KI gedoen het, hy reeds 30 jaar gelede besef het daar beter maniere is om sy kudde te verbeter. Laparoskopie was vir my die antwoord. Die hoeveelheid lammers wat ek met die prosedure aankry is reeds só goed dat ek vanjaar nie agterna weer ramme by die ooie gaan sit vir ’n opvolgdekking nie. Met die melkery wat ook aandag verg wil ek die lamtyd so kort as moontlik hou.”

En ja, genomika is iets waaroor hy reeds oor nagedink het, sê Andrew as daar gegroet word. Hy sê dit is ’n aspek wat hy in die hande van Andrew (jr.) gaan laat oor hoe hy dit aan te wend.

Die Jordaans hou in Februarie vanjaar hulle  6 de produksieveiling op Spekboomberg.    

          

   

 

Tabel 1

Beheerde teling by kleinvee:

 

Natuurlike dekking

en groep paring 

Handdekking met

sinkronisasie

Servikale inseminasie

varssaad

Laparoskopiese

inseminasie 

30 tot 40 ooie per ram oor 5 weke

5 ooie per ram per dag

elke 2 de dag

20 tot 40 ooie

per ram per dag

100 tot 200 ooie

Per ram per dag met afgekoelde of bevrore saad. 

  Voordele van KI: (servikaal en laparoskopies) 

·         Groot aantal ooie kan met semen van een ram bevrug word

·         Voortreflike eienskappe kan vinnig in kudde vasgelê word

·         Ou beproefde ramme kan optimaal benut word.

·         Beheer oor geslagsiektes

 

Nadeel:

Die moontlikheid bestaan dat ’n ram met latente swak eienskappe, die eienskappe ook aan ’n groot deel van die kudde kan  oordra die ram nie vooraf op die proef gestel is nie. 

 

Kassie 2

Voordele van sinkronisasie:

·         Spesifieke getal ooie op ’n gegewe tyd gereed vir inseminasie

·         Lamtye kan beplan word.

·         Korter lamtydperk.

·         Beter bestuur en voeding oor ’n kort tydperk.

·         Speenlammers op dieselfde ouderdom

·         Verseker die byhou van akkurate rekords

·         Meer betroubare dragtigheidsondersoeke deur middel van sonarskandering.

·         Kostedoeltreffend. Die koste beloop minder as die prys van 1 kg skaapvleis.

Kassie 3

Beplanning van sinkronisasie-program (voorbeeld)

 

Dag van program

Dag en datum

Tyd

Aksie

-          30 dae

Maandag

31 Augustus

 

Selekteer ramme en ooie vir KI-program. Beoordeel hulle kondisie

Gee bykomende voeding, minerale en vitamien indien nodig. Ent skape en behandel hulle teen in- en uitwendige parasiete   

0

Woensdag

30 September

voormiddag

Toediening van Sponse of CDRS wat progesteroon vrystel om die ooi se hitte te onderdruk.  

14

Woensdag

14 Oktober

06:00

 

Onttrek sponse en spuit tussen 2 mℓ en 3 mℓ. dragtige merrie serum (DMS) binnespiers. Dit stimuleer die ontwikkeling van die follikels in die eierselle wat die kans op meerlinge verhoog. Na die onttrekking van die sponse skei die ooi estrogeen vry en afhangende van die ras en seisoen van die jaar sal sy tussen 40 en 52 ure later bronstig word.      

15

Donderdag

15 Oktober  

 

15:00

Sit koggelramme by om ooie te stimuleer. Vang gemerkte ooie uit.

Geen kos of water vir ooie nie.

16

Vrydag

16 Oktober

10:00 en 12:00

Semen kolleksie en KI met vars semen binne 52 en 54 uur na die sponse onttrek was.

30

Vrydag

30 Oktober

 

Sit opvolgramme by

150

Sondag

28 Maart

 

Lamtyd tussen 145 en 155 dae nadat KI gedoen is. Ooie wat deur die opvolgramme gedek is, sal twee weke  later begin lam

                  

Wie is Ramsem.

Ramsem is in 1989 gestig met Taurus en BKB as aandeelhouers. In 1992 het dr. Johan Steyn (63) die beherende aandeel verkry en in 1997 die sentrum na Roodewal by Bloemfontein verskuif. Sy twee seuns, Fanie (35) en Thomas (30) het na hulle studies by die onderneming aangesluit.

Die diens wat hulle verskaf sluit ondermeer die bevriesing en bemarking van ramsemen, laparoskopiese inseminasie, embriospoeling, -bevriesing, -oorplasing en uitvoer in. Hulle bied ook KI-kursusse aan en verskaf middels en instrumente wat op die bevrugting van diere van toepassing is.

Met die toerusting van Ramsem word vars getapte semen teen 5 grade C outomaties in strooitjies opgesuig en geseël. Die semen word hierna in ’n bevriesingsmasjien met behulp van ’n bepaalde rekenaarkurwe gevries. Op elke strooitjie is daar inligting oor die ID van die ram soos die naam, ras, datum van sementapping en naam van die stasie waar dit bevries is. Bevrore semen  word in vloeibare stikstof in spesiale termokanne teen -196 grade C bewaar. Waar die afkoelvlakke van die stikstof konstant gehandhaaf word, is goeie resultate behaal met semen wat al meer as 30 jaar geberg was.

Navrae: Dr. Fanie Steyn 0828255091 epos -  drfanie@ramsem.com webwerf:  www.ramsem.com                                 

 

 

Fanie kan julle help met ’n tabel of iets om ’n vergelyk te tref tussen servikale en laparoskopiese KI

Dalk so iets?

  

Laparoskopiese KI versus servikale KI.

 

 

Servikale inseminasie 

Laparoskopiese inseminasie 

Semen

Vars of bevrore saad wat ontdooi is

Vars of bevrore saad wat ontdooi is

 

 

 

Aantal ooie per ejakulaat  geïnsemineer.  (onverdun)

10 tot 20 ooie

?

Semen verdun

?

Tussen 50 tot 100

Konsepsie  - vars saad

Tussen 60% en  70%

Tot 90% as ooie goed voorberei is.

Lampersentasie

?

Tot 178% op Jordaans se plaas

Koste

?

R90

Kundigheid

Kan deur ’n boer self gedoen word

Slegs ’n veearts mag dit doen

 

Picture

Andrew Jordaan en Seuns 5 plekke in die top 10 wolverkope:

27 Maart / March 2013 TOP TIEN - TOP TEN : 1.  A S Jordaan, Cradock 1 A 19.3 R 89.60 / kg, 2.  S P van der Walt, Colesberg 1 CL 17.6 R 88.45 / kg, 3.  Gert Jordaan Familie, Aberdeen 1 BH 18.2 R 88.00 / kg, 4.   A S Jordaan, Cradock     10 AM 19.4 R 87.95 / kg, 5.   D B Marais, Murraysburg 2 CMY 18.4 R 87.50 / kg, 6.   A S Jordaan, Cradock 10 AAM 20.2 R 87.45 / kg, 7.  A S Jordaan, Cradock 16 AAM 20.0 R 86.80 / kg, 8.  Marais Family Farming, Jansenville 1 BH 17.8 R 86.10 / kg, 9.   S P Steynberg Familie, Aberdeen   2 AMY 18.5 R 85.95 / kg, 10.  A S Jordaan, Cradock     7 AM 19.2 R 85.85 / kg  

Picture
Boerdery-integrasie, Jordaanstyl

Deur Izak Hofmeyr

As jy jou drie seuns op een plaas wil akkomodeer en die vrede, relatief gesproke, wil bewaar, verg dit noukeurige bestuur. Maar as jy dit regkry, dan is die bevrediging wat jy kry, enorm.

So gesels Andrew Jordaan van die plaas Spekboomberg in die Cradock-omgewing van die Oos-Kaap. Hy boer saam met sy drie seuns, Wilhelm, Ginkel en Andrew junior. Terwyl hy die boerdery oorhoofs bestuur, is Wilhelm verantwoordelik vir die besproeiing, masjienerie, landerye en help sy Ma met die finansies, Ginkel bestuur die melkery en die Boranstoet, en Andrew junior bestuur die kleinvee – Merino’s en Dormers.

“Toe ek die plaas destyds gekoop het,” vertel Andrew, “het ek die besproeiingsinfrastruktuur opgebou en waterregte uit die Oranje-Visbesproeiingskema  bekom. Ek het hoofsaaklik met Merino’s geboer en die besproeiing aangewend vir kontantgewasse en lusernverbouing, tesame met  intensiewe beweiding. In so ‘n stelsel is die parasietbelading op die weidings egter ‘n toenemende probleem.

“Toe die seuns later van tyd een vir een plaas toe gekom het, het ons besluit om nog ‘n vertakking, naamlik ‘n melkery, te begin. Dit was hoofsaaklik om die lusern optimaal te benut. Ons het berge tweede en derdegraadse lusern hier gehad wat ons nie kon verkoop nie. Daardie lusern word nou deur die melkkoeie benut.”

Die Merinos, vertel Andrew, het hulle oor die jare gedra, en dit bly steeds die hoof-vertakking.

“Ek sê altyd as ons iets nuut wil doen, dan vra ons eers vir die Merinos of dit reg is. Ons stoet, Montevideo Merinos, kom reeds van my oupa-grootjie af, maar deesdae noem ons die stoet Andrew Jordaan en Seuns. Ons teel ‘n medium-glad skaap met baie wol en uitstekende bouvorm vir ‘n goeie karkas. Verder selekteer ons baie streng vir vrugbaarheid.”

Die Jordaans hou hulle volgende produksieveiling op die 7e Februarie en dan weer in Augustus.Die produksie veiling verg `n spanpoging van die hele famiele vrouens ingesluit. Afgesien van hulle jaarlikse produksieveiling, is hulle skape ook jaarliks op die Nasionale veiling beskikbaar.

“Die benadering tot ramkoop,” verduidelik Andrew junior, “het oor tyd heelwat verander. In die ou dae het ‘n gegewe boer soveel as 60 ramme nodig gehad vir al sy ooie. Nou egter, met die ontwikkeling van tegnologie soos laparoskopie, word baie minder ramme benodig en raak boere baie meer kieskeurig oor die kwaliteit van die ramme wat hulle wil gebruik.

“Jy kry dus baie meer dat boere saam ‘n ram koop en deur middel van KI of laparoskopie hulle ooie met die een ram dragtig kry. Die effek van herdie neiging is dat die uitstekende ramme baie hoë pryse op veilings behaal, maar dan val die pryse heeltemal weg, sodat jy baie min kry vir ramme wat eintlik nog goed is, maar nie in die klas van daardie duur ram nie.”

Produksiestelsel

Die Jordaans maak van twee lamseisoene gebruik – ‘n herfs en lenteseisoen. Die kommersiële ooie loop op die veld en word op die veld gedek. Die stoetooie daarenteen kom lande toe drie weke voor hulle gelaparoskopie word, waar hulle geprikkel word en gaan dan weer na paring weer veld toe.

“Om die beheer makliker te maak,” vertel Andrew Junior, “het ek lamhokkies gebou sodat die meerlinge en die stoetooi lam. Die eenlinge en die kudde-ooie lam op die lusern-raaigraslande, waar goeie wagters hulle onder oog hou.”

Gedurende die herfs, verduidelik  Wilhelm, word raaigras tussen die lusernplante met ‘n geen-bewerkingplanter ingeplant. As die lusern gedurende die winter dormant raak, kom die raaigras deur om weiding in die wintermaande te verskaf. Hier teen November gaan die raaigras af en die lusern neem weer oor.

“Teen die tyd dat die lammers op 2.5 maande gespeen word, gaan die ooie weer veld toe en die lammers bly agter om afgerond te word. Die stelsel het ook die effek dat ons nie werklik ‘n roofdierprobleem het nie. Ons verloor miskien 0,01% van ons lammers aan roofdiere.”

In terme van lampersentasie behaal Andrew op sy stoetooie wat gelaparoskopie word, in die omgewing van 176%, maar as al sy ooie in berekening gebring word,insluitende ooitjies wat op 12 maande gepaar word, daal die syfer na ongeveer 130%.    

“Ons het ook ‘n Dormerstoet, wat ons hoofsaaklik gebruik vir kruisteling met die Merino’s. Ons sit Dormerramme op ons derdekudde merino-ooie as ‘n terminale kruising. Hierdie lammers is lekker vroeg ryp en ons rond hulle in ons eie voerkraal af.”

Die vraag na hulle Merinoramme kom van oor die hele land, hoewel hulle besonder baie diere in die Vrystaat verkoop.

“Ons het ‘n gemiddelde mikronsterkte van 19,5, met rondom 5,1 kilogram per ooi. Ons glo aan ‘n mediumwolskaap, want as jou kudde groot genoeg is, skeer jy genoeg jong diere om ‘n groot fynwolopbrengs te kry. Gedurende die afgelope veilingseisoen het ons eerste in die land gestaan ,en ‘n paar weke later het kliënte wat uit ons teel ook eerste gestaan. So ons glo ons teel in die regte rigting.”

Bestuur

Hoewel hulle nog nie daar is nie, is die plan dat die verskillende boerderyfasette mekaar onderling sal faktureer vir insette. Op hierdie manier sal daar effektief geëvalueer kan word hoe  doetreffend elke afdeling funksioneer.

“Op die oomblik,” verduidelik Wilhelm, “het ons egter nog nie ‘n weegbrug nie, so ons stelsel funksioneer nog nie so nie. Die besproeiingsafdeling dien as voerverskaffer vir die veevertakkings. Ons plant jaarliks 275 hektaar mielies, waarvan 150 ha vir kuilvoer gaan. Dan is daar nog 150 ha onder permanente raaigras en 335ha is onder lusern.”

Alles word op ‘n geen-bewerkingsbasis geproduseer. As die mielies hier teen Maart-April maand afgesny word, word eenjarige raaigras op die stoppelland ingeplant. Lusernblokke wat ‘n hoë grasindringing begin kry, word onder mielies gesit. Die besproeing ver van die melkery af word pitmielies, en die nader besproeing kuilvoer.

Intussen word die mis van die melkery af uitgery en op die swakste lande gestrooi. Vanjaar het hulle byvoorbeeld 700 ton se mis op dié manier gebruik.

Melkery

 

Die melkery het so 14 jaar gelde tot stand gekom omdat hulle na ‘n effektiewe en winsgewende manier gesoek het om die tweede en derdegraadse lusern te benut. Ginkel is vir dié vertakking verantwoordelik.

“Ons het destyds met so 70 koeie begin,” vertel hy. “Nie een van ons het baie van melkery geweet nie, so die leerkurwe was maar lekker styl. Een ding het ek egter geweet, en dit is dat ek nie wou kruisteel nie. Ek wou met ‘n ras begin met die potensiaal dat ek daarin kon ontwikkel.

“Een van die heel eerste dinge wat ons geleer het, was dat ons baie kieskeurig moes wees met die tipe Holstein wat hier by ons aard. So, hoewel ons suiwer Holsteins het, selekteer ons defnitief vir ‘n dieper bees met goeie sprong van rib, sonder om die melkproduksie in te kort. As sy vier kilometer per dag moet stap om te gaan wei, moet sy dit kan doen. Maar ter selfdertyd moet sy maklik in kalf kom en goeie melkproduksie lewer.”

Wat produksie betref, glo Ginkel, is insetkoste waarskynlik belangriker as produksie alleen.

“Wat ons probeer doen is om alle insette self op die plaas te produseer. Ons kry dit waarskynlik so 90% reg. Wat ons voedingstelsel betref, glo ek ons het ook ‘n baie goeie praktiese stelsel ontwikkel, waar die hoë produseerders op voelvoer is en hulle dan, soos hulle produksie later in die laktasie afneem, al meer op die weidings is.

“Oor die hele kudde geneem, insluitende die verse en droeë koeie, gebruik ons 270 gram kragvoer vir elke liter melk geproduseer. Ons stalgemiddeld is tans 26 liter, en die gemiddelde dae in melk is 180. Ons glo in goeie ruvoer want dis ‘n herkouer wat ons voer. Kragvoer gaan net vir die lakterende koeie. Verder gebruik ons ook geen hormone nie.”

Hoewel hulle nog ‘n relatief ou melkstal  vir die 700 koeie in melk het, met ‘n dertigpunt oorswaaistelsel, het hulle ‘n DeLAval bestuursprogram wat Ginkel in staat stel om presies op hoogte te wees van alle aspekte van elke koei.

“Omdat ons familie tradisioneel stoetboere is, wil ek die melkkoeie ook op dieselfde beginsels bestuur. Daarom doen ek baie moeite met die keuse van bulle. Op die oomblik maak ek hoofsaaklik van Hollandse genetika gebruik en is my seleksie baie streng. Ek is nie skaam om diere uit te skot wat nie volgens my standaarde presteer nie.”

Drie seuns

Om drie seuns en ‘n pa op dieselfde plaas te hê, dra die potensiaal vir kwaai wrywing, sê pa Andrew. Omdat die boerderyfasette egter so ver van mekaar verwyder is, en elkeen redelik outonoom verantwoordelik is vir sy eie faset, gebeur dit soms dat die drie broers mekaar vir dae lank nie eens sien nie. Ma help om die klomp bymekaar te hou en se Pa is die heel stoutste seun. Pa Andrew se hy het sy seuns van kleins af saam met hom geneem om te leer van al die fasette van boerdery.

“Ons probeer om elke Dinsdag-oggend vergadering te hou, en dan eet ons graag gereeld ontbyt saam. Maar verder gaan elkeen maar op sy eie aan.”

Hulle geheim?

“Ek dink die kern van veeboerdery is goeie genetika en kos. Ons is in die posisie dat ons baie goeie kos vir ons diere kan maak. En genoeg daarvan ook. Dit tel seker omtrent vir 90% van ons sukses.”












Picture
Picture

Landbouweekblad Artikels:



BAIE LAMMERS VERG SPESIALE MANIER VAN GROOTMAAK


Lampersentasies van tot 170 by hul Merino’s het dié gesin genoop om buite die kassie te dink as dit by lamtyd kom. Die voer- en lamkrale wat hulle vir die stoetooie op die plaas ingerig het, het ook ander voordele meegebring.

Dit is ’n prentjie wat ’n mens beswaarlik kan beskryf: Meer as 1 200 Merino- stoetooie, almal met meerlinge, in klein kampies en lammerhokke neffens die melkstal op Spekboomberg in die distrik Cradock. Almal saam in kampies op ’n oppervlakte wat kwalik 3 hektaar beslaan. “Vir ons is hierdie manier van die grootmaak van meerlinglammers al tweede natuur. Dit help ook om ons rekordhouding betroubaar te maak,” verseker mnr. Andrew Jordaan jr. (28) my as hy die verbasing op my gesig sien.

Die stoetery, wat uit die 1970’s dateer, se teelmateriaal is hoofsaaklik afkomstig van sy oupa, wyle mnr. Zeis Jordaan, wat op sy dag een van die bekendste Merinostoettelers in die land was. Anders as in sy oupa se tyd was die plaas nie omring deur wildplase nie. Daar was jakkalse en rooikatte, maar die omvang van die skade was nie naastenby wat Karooboere vandag ervaar nie. Daar was ook nie laparoskopiese prosedures nie. Toe het ramme self die werk gedoen. Die produksiekoste, veral vir Karooboere wat hul plase klaar betaal het, was minimaal.

Maar tye het verander. Met die prys van wol en vleis wat die hoogte ingeskiet het, probleemdiere en slenkdalkoors wat sy tol eis en arbeid wat al hoe duurder raak, is daar ál meer boere wat, soos die Jordaans, planne maak om hul lammeroeste te maksimaliseer. Met 48% van die kudde-ooie wat ook meerlinge het, is dit verstaanbaar dat lamtyd spesiale sorg op Spekboomberg verg. Dan is daar die stoetooie wat nog meer lammers oplewer, aangesien hulle almal laparoskopies met beproefde ramme se semen geïnsemineer word.

En dit is hier waar Andrew jr., wat met Rykie getroud is en wie se eersteling op pad is, inkom. As die jongste van drie seuns wat saam met hul pa, Andrew sr. (59), boer, is sy verantwoordelikheid die skaapboerdery en die byhou van inligting oor die stoetery. Die oudste seun, Wilhelm (35), wat tydens die besoek in Nederland was, sien om na die 800 hektaar se besproeiing en meganisasie op die plaas. Die ander seun, Ginkel (33), is by die melkery op die plaas betrokke. Benewens die Merino- en Dormerstoetery, sluit die ander veevertakkings van die Spekboomberg- boerdery Holsteins, Borans en Angus-tipe beeste in.

Maar veegetalle is iets waaroor die gesin verkies om nie praat nie. Andrew jr., wat al ’n finalis in ’n Skaapboer van die Jaar-kompetisie was, sê daar word doelbewus vir meerlinge geselekteer en die voerkraal help ook om verliese met probleemdiere te verminder. Hy glo die intensiewe praktyk wat hulle toepas om die maksimum aantal lammers vir ’n tyd in voerkrale groot te maak, is ekonomies geregverdig. Dit is aangesien hulle jaarliks op internetveilings en uit die hand sowat 5 000 stoorlammers (Merino’s en Dormer-Merino-kruisings) bemark. Dit stel hulle in staat om lammers op die ouderdom van drie en ’n half maande teen ’n gemiddelde prys van R850 te verkoop wanneer hulle van 28 kg tot 33 kg weeg.

“Hoe meer lammers ons kan bemark, hoe beter is dit dus vir ons sak. Verlede jaar het ons ’n groot verlies gehad toe sowat 600 lammers weens slenkdalkoors gevrek het.”

Die bestuurspraktyke wat hulle toepas, verg egter groot toewyding. Sowat drie maande voor die stoetooie lam, skandeer Andrew jr. almal om die meerlinge van die enkelinge te onderskei. Elke ooi kry dan ’n bepaalde kleur oorplaatjie wat aandui of sy ’n een-, twee- of drieling in die lewe gaan bring. (Ooie wat oorslaan, of wie se lam by geboorte dood is, kry ’n swart oorplaatjie en word uitgeskot.)

Drie weke voor lamtyd word al die stoetooie wat meerlinge dra, na die voerkraal gebring waar hulle in kampies (25 m x 50 m) “opgestoom” word. Die ooie word vyf dae voor hulle lam in hokkies van 1,5 m x l,2 m ingedeel.

Nadat die ooi gelam het, bly sy vir nog sowat 4 dae in die hokkie sodat die lammers genoeg biesmelk kan inkry. Sodra die lammers sterk is, gaan die ooie terug in die groter kampies waar hulle steeds die volvoerrantsoen kry. Ná tien dae word hulle op die aangeplante weidings oorgeplaas.

Waar ooie drie- of vierlinge het, word die orige lammers van haar weggeneem en dadelik by ’n ooi gesit wat pas ’n eenling gehad het. Om te verseker dat die ooi die lam aanneem, word die lam met haar nageboortevloeistof gesmeer. Elke lam wat aankom, kry ’n oorplaatjie om hom of haar later in die stoetery te identifiseer.

PLANNE

Kudde-ooie só bestuur

Wat die Jordaans van die plaas Spekboomberg naby Cradock se kudde-ooie betref, word hulle in die lente en herfs in groepe van 300 gepaar nadat hulle gemikskeer is. Van 40 tot 50 ooie per ram word toegelaat. Jong ooie (12 maande tot 13 maande) word met ouer ramme, wat meer ondervinding het, gepaar. Die ramme bly vir drie siklusse tussen die kudde-ooie. Die ooie wat die eerste keer ram kry, word net een onsuksesvolle lamkans toegelaat. Jong ooie wat oorslaan, kry ’n swart merkplaatjie in die linkeroor.

Die laat dragtige ooie wei op die beste spaarveld wat beskikbaar is. Die kudde-ooie word ook geskandeer en in groepe van een- en meerlinge ingedeel.

Drie weke voor die kudde-ooie lam, word hulle na die lande gebring. Sommige moet oor ’n afstand van 60 km aangejaag of per vragmotor na die lande vervoer word. Na gelang van die grootte van elke land, kan daar tot soveel as 300 dragtige eenling-ooie in ’n trop wees. Vyf dae voor hulle lam, word hulle in troppe van 100 afgekeer en in kleiner landjies gesit. Dié wat gelam het, word uitgekeer en na ’n ander land geskuif. Dit word gedoen sodat die lammers en die ooie goed kan bind en elke lam die nodige kolostrum inkry.

Omdat koksidiose en parasiete ’n groot probleem op die aangeplante weidings is, word gereelde mismonsters geneem en word die ooie daarvolgens gedoseer.

Die meerling-kudde-ooie kry dieselfde behandeling as die stoetooie en lam ook in die voerkraal.

In die voerkraal het die ooie vryelik toegang tot ’n volvoerrantsoen bestaande uit mieliekuilvoer, lusern, mieliemeel, sojakoek en mineralekonsentraat. Hul gemiddelde inname beloop 1,8 kg per ooi per dag, maar dit kan tot 2,5 kg toeneem nadat hulle gelam het. Dit kos gemiddeld R1,70 per ooi per dag om hulle hier te voer. “Omdat die rantsoen so ryk aan proteïene is, moet ons altyd op blou-uier bedag wees en voorkomende inenting doen. Nadat ons aanvanklik heelwat las met domsiekte gehad het, het dit verbeter toe ons die ooie vroeër in die voerkrale geplaas het. Om te keer dat die wol besoedel word, is dit wenslik dat die ooie wat in die voerkrale lam, kort geskeer moet wees,” verduidelik Andrew jr.

Die Jordaans, wat ’n 12 maande-skeersel lewer, moes dit in twee seisoene verdeel met die voerkraalstelsel. Met skeertyd word al die ooie met ’n breëspektrummiddel gedoseer en teen bloednier en blou-uier ingeënt.

Die veld waarhulleboer, wissel van Karoosoetgrasveld tot suurveld wat 1 750 meter bo seespieël is en gereeld sneeu in die winter kry. Die kudde-ooie word van Oktober tot November op die hoogliggende dele van die plase gepaar en weer van Maart tot April. “Ons paar die ooie op die hoërliggende dele van die plaas omdat die koeler omstandighede beter besetting verseker. Die veld waar hulle gepaar word, bestaan meestal uit kortbeen-rooigras met ’n bietjie natuurlike klawer. Die ooie wat op die suurveld loop, word drie weke voor paring met ’n goeie lek geprikkel. Droë ooie loop op die swakker veld en die jong skape op die soeter veld.”

Andrew jr. sê hoewel die weidings op die lande meestal uit raaigras en lusern bestaan, verkies hy laasgenoemde. “Die raaigras is duur, want dit benodig baie kunsmis en die skape vaar nie so goed daarop soos op die lusern nie.”

Die Jordaans berei jaarliks sowat 250 ramme voor vir hul produksieveiling, die nasionale Merinoramveiling en vir hul eie gebruik. “Ons missie is om ramme met goeie balans en bouvorm, wol van goeie gehalte en hoë vrugbaarheid te produseer, aangesien ons teelmateriaal aan stoetery- en kuddeboere wil voorsien wat ekonomies doeltreffende wol- en vleisproduksie sal verseker.

“Omdat die Merino’s so aanpasbaar is, kan dit selfs moontlik wees om hulle ook in die somermaande in die voerkrale aan te hou wanneer daar baie parasiete op die lande is.”

Andrew jr. is nie seker wat sy oupa van so ’n intensiewe stelsel vir Merino’s sou sê nie. “Al wat ek weet, is dat die Merino seker een van die mees aanpasbare rasse is. Dit maak nie saak of jy ekstensief met hulle boer soos my oupa gedoen het, of so intensief soos ons dit vandag doen nie. Dit is ’n ras wat sy kant bring as jy goed vir die diere sorg.” LB

Navrae:Mnr. Andrew Jordaan jr., sel 082 855 5604 of e-pos:andrewjr@63.co.za.

VOORDELE

Voerkraal help as weidings nog nie reg is

Mnr. Andrew Jordaan sr. van die plaas Spekboomberg naby Cradock sê een van die groot voordele van hul voerkraalstelsel is dat ooie in die wintermaande vroeër kan lam wanneer die aangeplante weidings nog nie reg is nie. Die lammers word reeds op 10 weke gespeen. “Vroeg speen bied ook bykomende voordele, soos die geleentheid om die plaas se drakrag te verhoog en gevolglik meer vleis per hektaar te produseer. Met die stelsel kan ons minstens 10% méér ooie aanhou omdat ook die ram- en uitskot-ooilammers as stoorlammers bemark word.

“Die ooie het ook ’n beter kans om ná laktasie hul kondisie te herwin en makliker met die volgende paartyd weer ram te vat. Die ooie wat vroeg gespeen is, kan ook op swakker weidings aangehou word. Omdat die lammers in die voerkrale afgerond word, beteken dit minder dosering omdat hulle vroeër van die weidings weggeneem is. Die uitskotooie kan dus ook vroeër bemark word, aangesien hulle hul kondisie vinniger kan herwin met dié dat hul lammers nie meer aan hulle suip nie.”

Andrew sr. sê die ramlammers van stoetooie wat op vier maande gekeur is, kry ’n bykomende lek of pille op die lande om hulle vir die veiling voor te berei. Kudde-ramlammers word nie gekastreer nie sodat hulle beter kan uitgroei.

GEENBEWERKING SLUK MINDER BRANDSTOF

Met die 780 ha besproeiingslande wat die boerdery se spens is, is daar min ruimte vir verkeerde besluite, sê mnr. Wilhelm Jordaan van die Spekboomberg-boerdery by Cradock. Een manier om koste te bespaar en risiko’s te verminder, was om na geenbewerking oor te skakel.

Hulle moet dalk eerder hoëwaardegewasse vir die uitvoermark verbou as die mielies, lusern, koring en meerjarige grasse wat hulle tans plant, sê mnr. Wilhelm Jordaan (36) van die Spekboomberg-boerdery by Cradock. Dit is veral weens die prys wat besproeiingsgrond langs die Visrivier behaal en die skerp styging in elektrisiteit- en watertariewe die afgelope vyf jaar.

’n Ander opsie is groter waardetoevoeging met die grondstowwe wat tot hul beskikking is, of in die vallei verbou word, deur ’n aanleg vir die maak van voerpille op te rig.

Hoewel grond daar selde in die mark kom, beloop die prys vir lande wat vloedbesproei kan word sowat R75 000/ha en vir lande onder spilpunte meer as R100 000/ha.

Wilhelm behartig die uitgebreide boerdery saam met sy pa, Andrew (61), en twee broers, Ginkel (34) en Andrew jr. (28). Aangesien diereproduksie (melk, vleis en wol) die spilpunt van hul boerdery is, is die gewasse op die landerye die “spens” van die plaas waardeur hulle tans meer waarde by die boerdery voeg. “Die doel is om regdeur die jaar selfvoorsienend te wees en niks by te koop nie.

“As dit nie vir die goeie wol- en vleispryse was en melkpryse wat die afgelope twee maande begin kop optel het nie, sou ons beslis hoëwaarde-kontantgewasse moes oorweeg. Een manier hoe ons al op produksiekoste kon afskaal, was om ses jaar gelede na geenbewerking oor te skakel.

“Hoewel die opbrengs op vloedlande effens afgeneem het, was dit hoër op die lande onder spilpunte omdat die gewasse se waterbehoefte beter gereguleer kon word. Danksy geenbewerking het ons dieselrekening met bykans 45% verminder. Die grondstruktuur het nie net baie verbeter nie, maar dit het ook gehelp om die instandhoudingskoste van die trekkers en ander werktuie te verminder.”

Wilhelm sê hul grootste maandelikse uitgawes waaroor hulle geen beheer het nie, is elektrisiteit, besproeiingswater en brandstof. “Om die 780 hektaar wat onder besproeiing is met net agt trekkers doeltreffend te bestuur, verg deeglike beplanning en die operateurs moet dikwels dubbelskofte werk. Ek dink ons sal ál meer soos die boere in die Europese Unie groter trekkers moet aanskaf, sodat meer as een funksie op ’n slag verrig kan word. Dit is nie net kostedoeltreffender nie, maar verlig ook die druk op werkers.

“Ons het gevind dat die kompakte trekkers van 80 kW wat ons gebruik, ligte takies maklik verrig sonder om baie diesel te gebruik. Dit kan ook vir die groter take gebruik word. Hoewel kleiner trekkers goedkoper is, staan hulle dikwels onproduktief op die plaas. Trekkers met tweewielaandrywing het ook nie so ’n goeie tweedehandse waarde as vierwielaangedrewe werktuie nie. In ons geval het trekkers wat met kajuite toegerus is, die drywers meer produktief gemaak. Hulle is trots om met dié trekkers te werk.”

Die Jordaans gebruik agt trekkers om 270 ha mielies, 200 ha meerjarige raaigras en 280 ha lusern onder vloed-, spilpunt- en sprinkelbesproeiing te verbou. Hul plaas is ook ’n toetsterrein waar die Japannese maatskappy Kubota sy trekkers van tot 100 kW in strawwe toestande op die proef stel. Tans is daar vier van hierdie trekkers op die plaas.

PLANMAKER: Gebore entrepreneur

Sy inspirasie was die TV-reeks Konings, waarin die hoofkarakter, Dolf, ondanks terugslae sy mededingers troef. Net so glo mnr. Wilhelm Jordaan dit is binne elkeen se vermoë om bo in die lewe uit te kom - sonder om op ander te trap.

Hy het al in gr. 2 met groente begin smous en skerts dat hy op laerskool wiskunde byna gedop het omdat hy in klastyd groente verkoop het. Op die Landbouskool Marlow waar hy matriek geskryf het, het hy die snoepwinkel bestuur. Tydens sy studie aan die Landboukollege Glen het hy oor naweke saam met ’n paar ander studente kontrakwerk vir boere gedoen, soos om vee te doseer en werktuie te versien. Hy het van gebruikte motors tot Golden-produkte verkoop. “Hoewel ek eerder die sakewêreld wou betree, het ek boerdery gekies omdat my twee jonger broers, Ginkel en Andrew, toe nog gestudeer het en my pa iemand op die plaas nodig gehad het om te kom handgee.”

Dit was in die aartappelpakhuis op Spekboomberg (sy pa het toe sowat 100 ha aartappels verbou) waar Wilhelm sy sakevernuf kon opskerp. “In die varsproduktemark moet jy flink wees. Daar word vir elke sent beding. Dit was dikwels lang nagtelike ure in die pakhuis. Jy moet jou oë oophou vir diefstal en gehaltebeheer. Maar dit was ’n lekker uitdaging en ’n goeie leerskool.”

Hy sê in ’n familieboerdery moet daar ruimte wees dat elkeen sy eie ding kan doen. “Gelukkig het ons elkeen ’n afdeling waarvoor ons verantwoordelikheid aanvaar en dit is nie nodig om in mekaar se nek te blaas nie. Ek is verantwoordelik vir die besproeiing, werktuie, werkers en rekeninge.”

Geenbewerking

Om te wys hoe deurlug die grond in die geenbewerking-mielielande is waarop Monsanto 7374 BR vir kuilvoer geplant is, grawe Wilhelm groot hoeveelhede erdwurms uit. “In dié blok het die skape nog in November gewei toe ons die planter ingesteek het. As die mielies in April vir kuilvoer gesny word, sal ons dit direk daarna weer met eenjarige raaigras met ’n geenbewerkingsplanter vestig”

Hy sê nóg voordele van geenbewerking is dat die organiese materiaal in die grond verbeter. Die hoër koolstofvlakke verbeter die grond se tekstuur en struktuur, wat weer tot hoër oeste lei. Met geenbewerking is dit goed om jaarliks grondmonsters te neem om te bepaal of die samestelling verbeter het. Om nog op produksiekoste te spaar, kan die kunsmistoediening daarby aangepas word. “Die doelwit moet altyd wees om die hoogste opbrengs met die minste kunsmis te kry.”

Organiese produkte, soos swart ureum en kraalmis, is ook aan te beveel. Die gemiddelde nat opbrengs vir kuilvoer is 80 t/ha. Wat pitmielies betref, bemes die Jordaans vir opbrengste van 10 ton, maar kry hulle tot 14 ton per hektaar. Wilhelm beraam dat die mielies ’n wins van tot R10 000/ha lewer teen ’n opbrengs van 10 t/ha en ’n prys van R1 900/ton nadat die produksiekoste van R12 000/ha afgetrek is.

EVALUERING BELANGRIK: Invoer van gebruikte werktuie

Om sy inkomste uit die boerdery aan te vul, het mnr. Wilhelm Jordaan van die Spekboomberg-boerdery by Cradock in 2010 ’n ooreenkoms met die Nederlandse maatskappy Agramex aangegaan om as sy plaaslike agent vir die invoer van gebruikte landbouwerktuie uit Europa na Suid-Afrika op te tree. Die aanloop tot dié verbintenis was toe hy en vier ander boere ’n paar jaar vantevore ’n konsortium gestig het om ’n Duitse kuilvoermasjien, vier waens en ’n misstrooier teen R2,5 miljoen in te voer.

Met ’n latere besoek aan Europa het ander boere gevra dat hy vir hulle op die uitkyk moet wees vir toerusting. “Ek het oral in Europa pragtige werktuie met min werksure gesien wat teen billike pryse ingevoer kon word. Die probleem is dat mense wat dit self in Suid-Afrika via die internet koop, al dikwels vir hulle ’n kat in die sak gekoop het.

“As iemand wél toerusting op die internet sien en my nader, sal Agramex een van hul werktuigkundiges stuur om dit te evalueer en aanbevelings te maak. As die masjien reg is, sal ons dit koop en versien voor dit na Suid-Afrika uitgevoer word.”

Ongeag die werktuig se prys neem Wilhelm ’n minimum deposito van R100 000 en tref hy al die reëlings vir die invoerproses. Dit kos sowat 21 dae om dit per skip in te voer. Om koste te bespaar, word die werktuie by die naaste hawe aan die kliënt ontskeep.

Hy spesialiseer in die invoer van kuilvoertoerusting, misstrooiers, grootmaatgraanwaens en trekkers. Terwyl ’n nuwe kuilvoermasjien met tafel sowat R3 miljoen kos, sal een met 700 werksure agter die blad in Suid-Afrika teen R1 miljoen minder afgelaai kan word, sê hy.

Wilhelm stel voor dat boere wat werktuie wil invoer, konsortiums stig en saam duur toerusting bekom. Die aandeelhouding en instandhoudingskoste kan in verhouding tot elkeen se hoeveelheid landerye wat bewerk word, toegedeel word. Om so ’n projek suksesvol te maak, moet almal vooraf ooreenkom oor die spelreëls sodat daar nie later onmin is oor wie die toerusting wanneer gebruik en wie vir watter skade aan die toerusting verantwoordelik is nie.

Pekanneute

Willem het ses jaar gelede begin om pekanneutbome te vestig op dele van die plaas waar vloedbesproeiing eers gedoen is. “Aangesien elektrisiteit wat die pompe aandryf, ál duurder geraak het, het die lande in onbruik gelê. Ek het die lande na drupbesproeiing omgeskakel en die bome begin plant. Daar is ook 5 hektaar onder ’n proefaanplanting van 2 kultivars granaatbome gevestig.”

Sowat 30 hektaar is reeds onder pekanneutverbouing en die eerste oes word binnekort verwag.

Die bome word 10 m by 10 m van mekaar af geplant in gate wat 1,2 m diep en 0,5 m breed is. Die boorde is in die warmer, droë dele gevestig en word organies verbou.

“Pekanneute is eintlik ’n pensioenskema vir die familie, aangesien dit as ’n langtermynbelegging gesien moet word.”

Dit het oor die loop van sewe jaar sowat R140 000/ha gekos om die boorde te vestig, maar, sê hy, as die bome op tienjarige ouderdom in volle produksie is, is dit min geld. “Die groot voordeel is dat jy jou geld in euro en dollars verdien as dit na die buiteland uitgevoer word.”

Wat swart ekonomiese bemagtiging betref, meen hy groot boere in hul omgewing moet swart mense wat in die landbou belang stel en liefs naskoolse landboukwalifikasies het, bystaan om tot die hoofstroom ekonomie toe te tree. Dit kan gedoen word deur betrokke te raak by landbouprojekte.

“As die Regering sien die projekte is suksesvol, mag dit hulle dalk net oorreed om boere met invoertariewe te beskerm sodat landbouprodukte nie net in die land gestort word nie.”

Nóg planne wat die Jordaans beoog, is om die unieke smaak van die lamsvleis wat in die voerkrale geproduseer word onder hul eie handelsmerk te bemark en om hulle tot ’n groter mate op meganisasie toe te spits.

LANDBOUWEEKBLAD VRA . . .

Wat maak jou die meeste opgewonde oor jou boerdery?

Reën.

Wat was jou grootste boerdery-fout?

Ek het te veel tyd met vloedbesproeiing gemors en nie vroeër al na drup- en spilpuntbesproeiing oorgeskakel nie.

Wie was jou mentor as jong boer, en wat was die belangrikste ding wat jy by hom geleer het?

My oupa en my pa. Om vas te byt en nie rond te spring nie. As almal van ’n bedryfsvertakking af weghardloop, het my pa ingeklim.

FYN WAARNEMING HELP MELKBOERDERY DEUR KRISISTYE

Die gedrag van ’n melkkoei jare gelede toe hy haar bygestaan het toe sy moeilik gekalf het, bly die inspirasie vir dié jong melkboer. Ook die wyse waarop Nederlanders hul melkkuddes bestuur en die toepassing daarvan op sy Karooplaas, help om die boerdery deur moeilike tye te dra.

Dit is nie soseer boekekennis nie, maar eerder deur fyn waarneming en om so na as moontlik saam met die natuur te boer dat mnr. Ginkel-Venter Jordaan (33) van Spekboomberg by Cradock die afgelope paar jaar ondanks wisselende melkpryse sy melkboerdery in die Karoo kan uitbrei.

Ginkel is die middelste van drie seuns (sy pa, Andrew, is die bekende Merinostoetteler). Nadat hy matriek aan die Landbouskool Marlow in 1996 voltooi het, het hy op stoetplase in Australië en Nieu-Seeland gaan werk. Terug in Suid-Afrika was die aanpassing op die plaas maar moeilik, erken dié vriendelike man. “Ná my Australiese ervaring waar net een man met sy skaaphonde gemaklik groot veetroppe hanteer, kon ek nie daaraan gewoond raak dat tot ses arbeiders hier op die plaas kom help die dag as ons skape bymekaar maak nie.

“My pa het gereken dat daar iets met my menseverhoudinge skort en dat dit my sal baat om na ’n landboukollege te gaan om dit op te knap. Een van die vakke op die Landboukollege Grootfontein was ‘melkwinning’ waaraan ek min erg gehad het en meestal ge-bunk het. Toe die lektor my eendag voor stok kry, het ek aan hom gesê dat ons skaapboere is en al wat ek van melkboerdery weet, is dat ons lusern aan die boere in die Tsitsikamma verkoop.

“Dit was eers toe ek klaar gestudeer het en my pa nie al die lusern kon verkoop nie, dat hy besluit het dat ons maar ons eie koeie moet aanskaf en ’n melkery begin om waardetoevoeging te kry. Van die vleisbeeste is verkoop en die hele melkkudde van ’n buurman is aangeskaf. Die koeie is sommer in die buurman se stal gemelk tot ons die stalle op Spekboomberg kon oprig.

“Ek was aan die diep kant ingegooi en jammer dat ek nie meer tyd in die melkwinningklas deurgebring het nie. Kort nadat ons die melkery oorgeneem het, het ek ’n koei gesien wat gelyk het of sy pyn verduur het. Ek het instinktief ’n handskoen aangetrek en my hand in haar skede gedruk en die dooie kalf, wat reeds begin ontbind het, stuk vir stuk uitgehaal.

“Hoewel die koei nooit weer gekalf het nie, het sy vir die twee jaar wat sy nog op die plaas was, elke keer as sy my sien, my kom lek. Dit was vir my ’n bevestiging van ons boerderyfilosofie dat wanneer jy vir jou diere sorg, hulle dankbaar is en ook vir jou sal sorg.”

Ná dertien jaar en lang ure in die melkstal ken Jordaan van dag die fyner punte van dié deel van hul uitgebreide boerdery, wat verskeie ander bedryfsvertakkinge insluit. Om produksiekoste te bespaar, word die meeste van die basiese bestanddele, soos mielie-, lusern- en ertekuilvoer, op die plaas onder besproeiing geproduseer.

Die Alpro-stelsel wat Jordaan volg, is om die koeie nadat hulle gekalf het tot op 65 dae ’n volvoerrantsoen te gee. Die mengsel bestaan uit 24 kilogram nat kuilvoer, 8 kg lusern, 7 kg mieliemeel en 4,5 kg (21%) HPK. Koeie wat ná hierdie tydperk minder as 25 liter melk per dag lewer, word in die weidingsgroep oorgeplaas en kry dan minder kragvoer.

Iets wat hy tydens ’n melkstudietoer in Nederland geleer het, is dat goeie gehalte ruvoer deurslaggewend is om produksie te stimuleer en verseker dat ’n koei tot 5 liter méér melk per dag gee. Pleks daarvan om die koeie net kragvoer te gee en na die weidings (raaigras en klawer) oor te plaas, help die ruvoer – bestaande uit mieliereste, kuilvoer, ’n klein hoeveelheid HPK en mieliemeel – om hul maaginhoud te bind en in beter kondisie te hou as wanneer hulle net op die weidings sou loop, sê hy.

Hoewel die familie self stoetboere is, sê Jordaan dat dit jammer is dat baie stoeterye in die melkbedryf wêreldwyd hoofsaaklik produksie nagejaag het en ál minder aandag aan vrugbaarheid en langlewendheid gee. “Gelukkig is daar nog in elke stal bulle wat dié betrokke kenmerke dra. Dit is skrikwekkend om te dink dat die gemiddelde aantal laktasies vir Holsteins in Suid- Afrika net 2,8 is. Dit is nié verse en tweedelaktasiekoeie wat die melk in die tenk sit nie, maar daardie koeie wat in haar vierde laktasie en langer is. Ek verkies ook koeie met ’n mediumraam wat die wil het om te oorleef, nie die tipe wat in die skouring eerste kom nie, maar eerder dié wat vir my geld in die sak sal bring.”

Jordaan teel sy eie bulle uit koeie wat reeds in hul sewende laktasie of langer is. Vir KI-doeleindes gebruik hy uitsluitlik teelmateriaal wat uit Nederland kom en van bulle wat bewese langlewende eienskappe het. Hy insemineer sy koeie kunsmatig volgens hul kondisietelling. “Wanneer ’n koei se kondisie goed is (2,5 tot 3) en sy in ’n positiewe energiebalans is, sal ek haar op 40 dae nadat sy gekalf het, insemineer. Omdat ’n koei wat 45 liter melk per dag gee beswaarlik op 40 dae nadat sy gekalf het, weer dragtig sal raak, word sy eers later geïnsemineer.

“Een van die lesse wat ek die afgelope 13 jaar geleer het, is om nie die verkeerde tipe diere (dié met ’n groot raamwerk) te ver sonder kuil- en kragvoer na die weidings te laat stap nie. Die prys wat jy daarvoor betaal, is laer melkproduksie en koeie wat oorslaan. Ek het ook geleer dat voldoende kos vir diere die verskil tussen sukses en mislukking in die melkstal kan beteken.”

’n Ander bouvorm-eienskap waaraan hy groot waarde heg, is dat koeie verkieslik ’n hangkruis moet hê. Dit sal verseker dat sy maklik kalf. “In al die jare het ek nog nooit koeie gespoel en behandel nie. Ek glo so ’n koei moet haarself skoonmaak.”

Ondanks die feit dat hy nie sy verse sinchroniseer nie en hulle ook geen hormoonbehandeling kry nie, beloop die besetting vir die stal slegs 1,5 strooitjies per koei, met ’n tussenkalfperiode van 13 maande.

Jordaan het min goeie woorde vir melkkopers en het sedert hy boer reeds drie keer van koper verwissel. “Ons moes vir amper 6 maande melk teen net R2,50 per liter aan die laaste koper lewer. Teen daardie prys moes die vleis- en wolkomponent van ons boerdery die melkery subsidieer. Ongelukkig is melk bederfbaar en kan jy nie jou spiere bult as jy nié ’n agterdeur het nie. Vanjaar het ons nie eers die gebruiklike winterpremie van 30 sent gekry nie,” mor hy.

Of hy meen hy nie beter daaraan toe sou wees as hy maar eerder net by die Merino’s gebly het nie, sien jy die twyfel in sy oë. “Teen die huidige melkpryse wonder ’n mens hoeveel skerper jy nóg jou potlood kan maak? Hoe lank meen kopers dat ons melkboere nog moet uithou? Dit is jammer dat ons as melkboere steeds aan ’n ‘eilandsindroom’ ly en nie die waarde daarvan insien om in ’n groter mate saam te staan nie; kopersgroepe te vorm sodat ons beter produksie- en melkpryse kan beding nie.”

Hoewel hy al met drie melktye op ’n dag geëksperimenteer het, beskryf hy dit as ’n “tronk met oop deure”. “As jy nie iemand het wat jou kan aflos nie, is jy later so uitgeput dat jy verkeerde besluite neem. Ons het wel vyf liter meer melk per koei per dag met drie melktye gekry, maar as jy dit opweeg teen die ekstra tyd wat daarin gaan, is dit kwalik die moeite werd.”

Jordaan is reeds ses jaar met Alta, ’n bekende tennisspeler en -afrigter, getroud.

Hy bring jaarin en jaaruit die grootste deel van die dag in die melkstal deur. Hy sê om tred met die werklikheid te hou, het hy ook ’n Meatmaster-skaapboerdery. Hy boer ook met Nguni’s, Borans en Dorpers.

Omdat hy ’n voormalige Dorperstoetboer is, is hy uitgesproke oor die teelrigting waarin die ras beweeg het. “Gedurende die tyd wat ek lid van die telersvereniging was, het ek besef dis hoe daar nié met ’n ekstensiewe ras geboer behoort te word nie en het daarom uit protes bedank.”

Met ’n kudde van 750 melkkoeie sê Jordaan dat die plaas die potensiaal het om die getalle verder uit te brei. As melkpryse weer kop optel, sal hy graag jaarliks op hul produksieveiling tussen 100 verse en 150 verse wil aanbied. “As die melkprys swak is en die koeie se kondisie nie goed is nie, is daar vir jou min uitdagings. Wanneer die prys egter goed is en jou koeie lyk goed, kan jy nie wag om soggens om vieruur op te staan nie. Ek glo teen volgende jaar dié tyd sal ons melkboere weer flink uit die vere kom.”

HOË KALWERHOKKE VERSEKER GESONDER KALWERS

Kalwerhokke in lang rye is ’n algemene gesig op baie melkplase. Dit is egter nie aldag dat jy hokke sien wat eerder aan ’n chalet in die Switserse Alpe of die ramstalle uit die dae van die wol-‘boom’ herinner nie.

Mnr. Ginkel-Venter Jordaan (33) van Spekboomberg by Cradock melk meer as 750 koeie. Hy is ’n man wat nie huiwer om nuwe idees op die proef te stel as hy glo dat dit tot voordeel van sy diere sal wees nie. Dit was ’n paar uur op die internet om te kyk na hoe boere in ander lande kalwers grootmaak wat hom op die spoor van dié uitsonderlike kalfbehuising gebring het. En ná meer as 8 jaar is hy nog glad nie spyt oor die sowat R70 000 wat dit hom destyds gekos het om dit op te rig nie.

Sy doel was om ’n groot aantal kalwers met die minimum arbeid groot te maak. Voor dit het hy hulle op verskeie ander maniere probeer grootmaak, soos om hulle aan pleegmoeder-koeie wat mastitis gekry het, te laat suip. Namate die kudde se gesondheid verbeter en al hoe meer kalwers aangekom het, moes hy ander maniere van kalwers grootmaak oorweeg.

Die kalwerhokke is sowat ’n meter van die grond af. Die luike aan die buitekant wat oop- en toemaak verseker voldoende ventilasie op warm Karoodae. Omdat die hokke waarin die kalwers staan, bo die grond is, val die mis en uriene op ’n sementvloer wat maklik skoonmaak. Die vloer word ontsmet deur net ’n paar korrels swembadchloor daarop te strooi. Gedurende wintermaande word strooi egter in die hokkies gesit en is daar ook infrarooi ligte om die temperatuur in die stal te reguleer.

Die bul- én verskalwertjies van koeie wat gekalf het, word dieselfde dag wat hulle aankom, in die hokke gesit (een kalf per hok). Elke verskalf kry twee oorplaatjies om haar te identifiseer. Vir die eerste vyf dae kry die kalwers, na gelang van hul grootte, tot 5 liter biesmelk per dag. In elke hokkie is daar ook ’n bottel met gemaalde hoëproteïenkalfmeel waaraan die kalfie kan peusel. Dit leer hulle om vroeg vaste kos in te neem, help om hul magies te bind en verminder die kans op diarree. Ná ses dae kry hulle ’n mengsel van gewone en biesmelk.

Die bulkalwers word ná vyf dae verkoop en die verskalwertjies word van 10 dae tot 14 dae ná geboorte in klein kampies (25 kalwers per kampie) oorgeplaas, waar hulle twee keer per dag ad lib melk kry. Jordaan sê die lewenskragtigheid van kalwers hang baie af van wat die koei se kondisie en gesondheid was toe sy gekalf het.

Die melk wat vir die groter kalwers geoormerk is, bestaan uit ’n mengsel van gewone en poeiermelk (50%). Hulle drink aan ’n mobiele melkkarretjie wat uit Nieu-Seeland ingevoer is. Die kalwers het ook toegang tot kalfvoerkorrels. Wanneer die verskalwers hul geboortegewig verdubbel het, word hulle na die speenkalfgroep oorgeplaas, waar hulle dan ’n volledige kragvoerrantsoen, asook ’n hoeveelheid ruvoer kry om die rumen te stimuleer.

Ná ses maande word die kragvoer uitgeskakel, maar kry hulle steeds ruvoer bestaande uit tweedegraadse lusern, mieliereste, mielie- en ertekuilvoer. Van 13 maande tot 15 maande word die swakker verse geprul en die bestes geïnsemineer.

Hoewel Jordaan al verse op aangeplante groen weiding probeer grootmaak het, het hulle nie tot dieselfde mate gepresteer as dié wat ruvoer (selfs al is dit ’n laer graad) gekry het wat in daardie stadium op die plaas beskikbaar was nie.

Aangesien die kondisie van die kalwers so goed is, is dit selde nodig om hulle voor speentyd in te ent. Ná speentyd word hulle egter teen die algemene siektes, soos slenkdalkoors, knopvelsiekte, BVD en brucella, wat in die omgewing voorkom, geïmmuniseer. Die jong verse word eenmalig ingeënt met lewende entstof teen siektes wat algemeen daar voorkom.

In die 13 jaar wat Jordaan die melkery bedryf, was dit vir hom opmerklik dat ’n kalfie wat nie die eerste dag wat sy die lewenslig aanskou genoeg biesmelk inkry nie, gewoonlik twee weke later sal vrek. Dit is veral iets waarop ’n boer bedag moet wees wanneer die kalwers oor ’n naweek aankom en werkers nie betroubaar is nie. “Die sleutel tot sukses bly nou maar eenmaal biesmelk, higiëne, die oog van die baas en K.O.S (kos),” spel hy dit uit.

Jordaan sê hy kon met die stelsel heelwat op arbeid bespaar, aangesien net twee mense nou tot 150 kalwertjies met gemak kan grootmaak. Met die stelsel kon hy ook daarin slaag om die geboortegewig van die kalwers binne 8 weke tot 12 weke te verdubbel. Op 70 dae is die gemiddelde gewig van sy kalwers reeds 128 kg.

“Ek glo dat solank ’n mens alles eenvoudig hou en die natuur probeer naboots, kom sukses vanself.”